Brand breek uit by hospitaal
2011-12-04 18:48
Johannesburg – Vier babas is ontruim uit die Nelson Mandela Akademiese Universiteitshospitaal in Mthatha nadat ‘n brand op die perseel uitgebreek het, het die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement Sondag gesê.
Sizwe Kupelo, woordvoerder, het gesê die babas is as voorsorgmaatreël na ‘n ander hospitaal geneem, nadat ‘n brand Saterdag omstreeks 22:00 in die hospitaal se aanvoerketting-kantore uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand blyk te lê by ‘n kas in dié kantore, waar skoonmaak-chemikalieë gestoor is.
Niemand is beseer nie en geen skade is gely nie, het hy gesê. Brandbestryders het vinnig gereageer.
Volgens Kupelo stel die polisie ondersoek in en sal die departement ook ‘n ondersoek van stapel stuur, nadat ‘n brand by dieselfde hospitaal in April tot die verwoesting van ongeveer R5 miljoen se medisyne gelei het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA