Brand by Kimberley-hospitaal ondersoek
2010-09-01 10:12
Johannesburg – ‘n Saak van brandstigting word ondersoek nadat ‘n brand uitgebreek het in die linnekamer van die Kimberley-hospitaal, het die polisie in die Noord-Kaap Woensdag gesê.
“Ons kan nie bevestig dat die brand aan die huidige staking gekoppel kan word nie, maar die moontlikheid word ondersoek,” het lt. kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, gesê.
Na bewering het die brand Dinsdagaand omstreeks 18:30 in die linnekamer op die vierde vloer uitgebreek.
Pasiënte op die vierde en vyfde vloer moes die hospitaal ontruim.
‘n Werker moes weens rookinaseming behandeling ontvang. Niemand anders is egter in die voorval beseer nie.
“Ons kan nie die oorsprong van die brand bevestig nie. Die saak word steeds ondersoek,” het Gamieldien gesê.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA