Botsing ruk motordak af, man vlieg 4m
2010-05-06 15:24
Johannesburg - ’n Man in ’n Pretoria-hospitaal veg vir sy lewe nadat hy in die vroeë oggendure in ’n tragiese ongeluk op die N1-snelweg betrokke was.
Die bestuurder van die voertuig het na bewering vanaf die N4 op die N1-snelweg gery en teen ‘n vragmotor se kant gebots nadat hy ’n skerp draai gevat het.
Netcare 911-nooddienste is na die toneel ontbied en het op ‘n opgefrommelde motor afgekom, het Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
Die dak van die motor het weens die impak van die botsing weggebreek en die bestuurder is sowat 4m ver uit die motor geslinger, het hy gesê.
Twee passasiers was in die motor vasgekeer.
Hulle het ernstige beserings opgedoen.
Paramedici het lank gevat om die bestuurder te stabiliseer.
Hy is op ‘n asemhalingmasjien geplaas en na die Netcare Montana-hospitaal geneem vir verdere behandeling.
-Nuus24
Volg Nuus24 op Twitter.