Botsing eis fietsryer (43)
2009-12-01 06:30
Marlene Neethling
Kaapstad - Enkele dae voor sy dogters se verjaardae is ’n fietsryer van Aurora, Durbanville, die naweek dood toe ’n motor teen sy fiets gebots het.
Bennie Booysen (43), ’n prokureur, is Saterdag omstreeks 06:45 dood nadat ’n motor op die Klipheuwelpad in die rigting van Stellenbosch hom van agter getref het.
Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. Die motoris is nie in hegtenis geneem nie.
Volgens Riana Bekker, Booysen se skoonma, was hy baie fiks en het hy gereeld Saterdae saam met vriende gaan fietsry. Saterdag het hy egter alleen gaan oefen.
Volgens Bekker het Booysen vir sy vrou, dr. Debbie Bekker (41), gesê hy sal omstreeks 09:00 weer tuis wees. “As hy gesê het hy is 09:00 terug, sou hy al teen 08:45 terug gewees het. Toe hy nie huis toe kom nie, het Debbie sy selnommer geskakel. Die polisie het geantwoord en haar vertel wat gebeur het.”
Bekker het gesê hulle wag vir die uitslag van die lykskouing om uit te vind of hy op slag dood is. Daarna kan hulle begrafnisreëlings begin tref.
Volgens Bekker is die verjaardae van Booysen se twee dogters om die draai. Thea word Saterdag 12 en Louisa word aanstaande Donderdag 7 jaar oud.
Sy het Booysen beskryf as ’n spontane mens wat altyd bereid was om ander te help. “Hy was die fiksste mens onder die son. Sy familie was vir hom alles en hy het daarvoor geleef om hulle te beskerm.”
Een van Booysen se kollegas by die prokureursfirma Marais Müller Yekiso in Tygervallei, Albert van Zyl, het gister aan Die Burger gesê Booysen het sowat 20 jaar lank vir die firma gewerk, en dit was ’n moeilike dag vir hulle by die kantoor.
“Hy was ’n noukeurige prokureur met ’n positiewe ingesteldheid. Hy het deernis met mense gehad en was ’n baie geliefde mens onder sy kollegas.”
Booysen het aan verskeie driekamp-kompetisies en ook twee keer aan die Ysterman-kompetisie deelgeneem.
Steve Hayward, voorsitter van die Trapkragvereniging, het gesê dit is tragies dat mense sterf terwyl hulle oefen om hul gesondheid te verbeter.
Volgens hom begin mense gewoonlik in September oefen vir groot fietstoere en pretwedrenne.
“Mense gaan gewoonlik omstreeks 05:00 soggens uit vir ’n uur of twee wanneer die pad veronderstel is om stil te wees, maar dit is juis in dié tyd dat hulle omgery word.”
Die Trapkragvereniging het in Oktober begin om elke Dinsdag die Killarney-renbaan vir fietsryers beskikbaar te stel om te oefen. “Dit is ideaal vir mense wat bang is om in die verkeer op hul fietse te ry. Dit is baie gewild en sowat 100 mense kom ry elke Dinsdag daar.”
Altesaam vyf fietsryers is einde verlede jaar en begin vanjaar voor die Cape Argus Pick n Pay-fietstoer in Maart dood nadat hulle deur voertuie omgery is.
- Die Burger