'Bose gees' maak amok by hospitaal
2011-03-05 10:51
Libode, Oos-Kaap - Personeel en pasiënte by die St Barnabas-hospitaal in die klein Oos-Kaapse dorpie Libode beweer dat hulle geterroriseer word deur 'n bose gees, het die Oos-Kaapse gesondeheidsdepartement Saterdag gesê.
"'n Pasiënt wat 'n keisersnee gehad het, het gesê dat 'n verpleegster deur die loop van die nag opgedaag het en al haar verbande afgehaal het. Sy het gesê die pasiënt mag nie na haar gesig kyk nie," het Sizwe Kupelo, 'n woordvoerder vir die hospitaal, gesê.
"Die bose gees het ook die intensiewesorg-eenheid besoek en en begin om masjiene aan te skakel. Toe die verpleegsters die masjiene afskakel het dit weer aangegaan, maar niemand was daar nie," het hy gesê.
Mediese studente wat by die hospitaal werk het drie weke gelede by die bestuur gekla dat iemand laat in die aand aan hulle deure klop, maar die bestuur het nie die klag ernstig opgeneem nie.
"'n Werker by die hospitaal het ook gesê hy het een aand buite die hospitaal op 'n verpleegster in volle uniform en met 'n handsak afgekom.
"Toe hy haar vra waarheen sy gaan het sy gesê sy gaan 'werk toe', en het toe verdwyn," het Kupelo gesê.
Hy het gesê die gebeure kan nie meer geïgnoreer word nie, en het gevra dat die departement moet uitvind wat by die hospitaal aangaan.
"Dit kan 'n probleem word want personeel kan begin weier om in die aand te werk weens die bose gees.
"Ons is ook bekommerd dat masjiene kan afgaan terwyl noodoperasies laat in die nag uitgevoer word," het Kupelo gesê.
Die departement het aangedui dat ondersoek instel sal word om vas te stel wat die probleem is.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA