Borgtogaansoek van Florida-man uitgestel
2011-11-11 17:08
Johannesburg – Die borgtogaansoek van 'n man wat daarvan beskuldig word dat hy 'n 18-jarige meisie buite die Hoërskool Die Burger in Florida wou ontvoer, is Vrydag in die Roodepoort-landdroshof uitgestel.
Landdros John Baloyi het die saak tot 15 November uitgestel.
Mohammed Adams (21) sal tot dan in aanhouding bly.
Adams se familie was buite die hof sigbaar ontsteld, maar wou nie kommentaar lewer nie. Hulle sal 'n verklaring by die volgende verhoordatum uitreik.
Sy pa het gesê die familie kan hom slegs twee keer 'n week sien. Hy het gesê hy sien nie 'n rede hoekom borgtog nie toegestaan kan word nie.
Die meisie se ma het gesê verhore duur altyd so lank.
"Hulle kan hom nie laat wegkom nie. Hy moet gestraf word."
Die tiener se ma hou vol haar dogter het niks verkeerd gedoen nie en het gevra hoekom Adams so vroeg buite 'n skool was as hy 'n vrou en kind by die huis het.
Die verhoor is vroeër uitgestel sodat 'n uitkenningsparade gehou kon word.
Ao. Boitumelo Mareko, ondersoekbeampte, het Vrydag getuig dat Adams tydens die uitkenningsparade positief geïdentifiseer is.
Fazal Dawood, vir Adams, het aangevoer dat hy die meriete van die uitkenningsparade tydens die verhoor sal bevraagteken.
Adams is verlede maand in hegtenis geneem nadat hy probeer het om die meisie buite Hoërskool Die Burger te ontvoer.
Die hof het verlede week gehoor dat die sekuriteitswag van die skool gesien het hoe die meisie se ouers haar 05:45 by die skool aflaai.
Die sekuriteitswag, die enigste ooggetuie, het gesê Adams het 'n rukkie later in 'n silwerkleurige motor bu die skool opgedaag. Hy het uit die motor geklim, die kattebak oopgemaak, 'n skroewedraaier uitgehaal en die meisie genader.
Mareko het gesê Adams het die meisie aan haar elmboog en trui na sy motor gesleep en die meisie het begin skree. Die sekuriteitswag het die twee genader en op Adams geskree. Adams het toe in sy motor geklim en weggery.
'n Beskrywing van hom, sy motor en registrasienommer is aan die polisie gegee. Toe die polisie 'n onderhoud met hom voer, het hy "erken dat hy op daardie tyd by die skool was", het Mareko gesê.
Die motor is deursoek, maar slegs koerante en 'n denimbroek is in die motor gevind.
Die polisie het die bewerings aan Adams verduidelik en hom in hegtenis geneem. Sy pa en suster, wat ná die hofverrigtinge met joernaliste gepraat het, het gesê hy het 'n vrou en twee maande oue babe by die huis.
Die Hoërskool Die Burger is dieselfde skool waar Louise de Waal op 12 Oktober ontvoer is. Haar verbrande lyk is dieselfde dag op 'n plaas in Magaliesburg gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA