Borgtog vir seun wat glo boelie skiet
2012-11-29 16:08
Johannesburg – 'n Oosrandse gr.11-leerder wat daarvan beskuldig word dat hy 'n skoolmaat wat hom geboelie het, doodgeskiet het, is Donderdag in die Boksburg-landdroshof borgtog van R1 000 toegestaan.
Tsundzukani Mthombi (18) het na bewering die gr.10-leerder Nkululeko Ndlovu in 'n klaskamer by die Phineas Xulu Sekondêre Skool doodgeskiet.
Ndlovu se ma en tante het in die hof in trane uitgebars toe hulle hoor hoe Mthombi na bewering sy ma se vuurwapen gesteel het.
Ao. Isaac Mashishi, ondersoekbeampte, het aan die hof gesê Mthombi het die kluis se sleutel uit sy ma se beursie gesteel, die kluis oopgemaak, die vuurwapen uitgehaal en die weer die kluis se sleutel teruggesit. Sy ma is 'n metropolisiebeampte.
"Hy het sy ma se vuurwapen gevat. Dit beteken hy het beplan om moord te pleeg," het Mashishi gesê.
Mashishi het gesê Mthombi is 'n dag voor die skietery deur 'n groep seuns by 'n bushalte aangeval.
"Hulle het hom aangeval en om gejaag terwyl hy weggehardloop het."
Die weergawes van wat gebeur het nadat hy die vuurwapen uit die kluis gehaal het, verskil egter.
In een verklaring word daar beweer dat die seuns wat Mthombi die vorige dag aangeval het, na sy klaskamer gegaan en hom weer aangeval het.
Mthombi het 'n skoot afgevuur en mis geskiet en Ndlovu daarna doodgeskiet.
In nóg 'n verklaring word beweer dat die seuns by die klaskamer ingestap het en dat Mthombi begin skiet het.
Die hof het die staat se saak as "wankelrig" beskryf omdat daar slegs dié twee teenstrydige verklarings is oor wat gebeur het.
Die saak is tot 16 Januarie uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA