Borgtog vir metropolisie-'verkragter'
2011-02-21 21:11
Pretoria - Borgtog van R1 000 is Maandag in die Pretoria-Noord Landdroshof toegestaan aan ‘n metropolisiebeampte van Tshwane wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n man verkrag en sy selfoon gesteel het.
Die 29-jarige beampte is Vrydagaand in hegtenis geneem, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Die beampte het ‘n 26-jarige man – nie ‘n vrou, soos aanvanklik berig is nie – opgetel. Hulle het saam uitgegaan vir drankies.
Ndou sê die beampte het aangebied om die man ná die drankies by die huis af te laai. Hy het egter glo op pad na die man se huis afgetrek, die man verkrag en hom aan die kant van die pad gelos.
Die man het na die Moot-polisiekantoor gestap en die beweerde verkragting en diefstal aangemeld.
Die hofsaak is tot 6 April uitgestel. ‘n Interne dissiplinêre verhoor teen die beampte word Dinsdag van stapel gestuur.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA