Boos oor dienslewering? Kla by die VF+
2011-03-31 13:15
Pretoria – Die Vryheidsfront Plus gaan 'n webwerf opstel waar inwoners hul munisipale klagtes vanaf 1 April kan registreer, het adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, gesê.
"In terme van die Verbruikersbeskermingswet, 68 van 2008, kan ‘n derde party namens 'n groep persone klagtes by die Verbruikerskommissie indien en die VF Plus beoog om hierdie rol te vervul. Die party het daarom ‘n webwerf, www.mymunisipaliteit.org.za, opgestel," het Alberts gesê.
Die Wet op Verbruikersbeskerming tree op 1 April 2011 in werking. In
terme van die bepalings van die wet kan die Verbruikerskommissie klagtes
rondom swak diens ondersoek, bevindings maak en die bevindings afdwing.
Middel- en lae-vermoë munisipaliteite is egter by die wet uitgesluit.
"Die webwerf is 'n platform om belastingbetalers inspraak te gee in die verbetering van dienste wat gelewer word deur munisipaliteite. Daar sal dus teen ’n munisipaliteit opgetree kan word om te verseker dat hulle die diens lewer waarvoor betaal word," meen Alberts.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24