Bono loof Zuma vir leierskap in vigsstryd
2011-02-18 07:40
Kaapstad - Daar is baie gepraat, maar geen struggle-liedjies is gesing toe U2 se Bono Donderdagoggend tee saam met pres. Jacob Zuma gedrink het nie.
“Ek het meer musiek verwag!” het Zuma kamma teleurgesteld gespot toe die twee ná ’n halfuur lange gesprek vir foto’s op die stoep van die presidensiële woning Genadendal gaan stelling inneem het.
’n Herrie het vroeër vandeesweek losgebars toe Bono luidens ’n berig in die Sunday Times gesê het bevrydingsliedjies is aanvaarbaar. Hy het egter bygevoeg dit is “taamlik dom” om sulke musiek binne ’n sekere gemeenskap te sing.
Getrou aan sy rol as aktivis in veral die stryd teen MIV/vigs in Afrika, het Bono die vergadering versoek ondanks U2 se voorbereiding vir sy konsert in die Kaapstad-stadion Vrydagaand.
Altesaam 72 180 kaartjies vir die vertoning is verkoop. Die Ierse rockster het gesê Zuma sal ongelukkig nie die optrede kan bywoon nie, al is hy deur die groep genooi.
Hy het die Suid-Afrikaanse president geloof vir die leierskap wat hy getoon het in die stryd teen MIV/vigs en veral die vordering wat die land gemaak het in die verskaffing van teenvigsmiddels. “Tans word slegs 36% van die nood gedek, maar dit is nietemin ongelooflik.”
Hy het ook gesê hy was beïndruk met Zuma se “warm houding”. “Hy het my werklik tuis laat voel.”
Die president het op sy beurt gesê dit is duidelik dat Afrika Bono baie na aan die hart lê en dat hulle verskeie goeie idees gedeel het oor hoe om die lewe van mense op die vasteland te verbeter.
- Volksblad