Bom in Eastgate-winkelsentrum gevind
2011-11-28 15:15
Kaapstad – ‘n Ploftoestel is Maandag buite ‘n juwelierswinkel by die Eastgate-winkelsentrum in Johannesburg gevind, het die polisie aan News24 bevestig.
Kapt. Katlego Mogale het gesê die winkelsentrum is ontruim nadat die polisie ‘n oproep ontvang het oor ‘n “verdagte aktetas” wat voor ‘n juwelierswinkel gelaat is.
Die bomeenheid en snuffelhonde is na die toneel ontbied en daar is gevind dat daar wel ‘n bom in die aktetas is, het Mogale gesê.
Mogale het aan News24 gesê die juwelierswinkel het ‘n “brief” ontvang wat hulle gewaarsku het oor die ploftoestel.
Inkopiegangers by die winkelsentrum het op die sosiale netwerk Twitter gesê hulle het ‘n man op die dak sien hardloop terwyl die polisie hom agterna gesit het. ‘n Helikopter het oor die gebied gevlieg.
– Volg Nuus24 op Twitter.