Boland nou 'rooi gebied'
2012-02-04 08:46
Stellenbosch – Die brandgevaar in die Boland is nog lank nie iets van die verlede nie en die publiek is gemaan om versigtig te wees.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het ’n “rooikode”-gebied verklaar weens die droë plantegroei en omdat hy bekommerd is dat die brande nog verder kan versprei.
Dié naweek word temperature in die hoë 30’s in die Boland verwag met ’n stormsterk suidoostewind.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het in reaksie op die talle brande die laaste paar weke in die Boland gevra dat mense versigtig moet wees.
“Ons ondervind ’n onverwagte aantal brande in die gebied. Die grootste deel van ons mannekrag is reeds ontplooi.”
Bredell het Vrydag bygevoeg die brandlyne in die Groenberg-gebied en in die Limietberg is tans stabiel, maar die helikopters bombardeer die vlamme in die gebiede wat geraak words steeds aanhoudend met water.
“Die sterkerwordende wind kan egter groot probleme veroorsaak,” het hy gesê.
“Die ammunisiefabriek naby Tulbagh word steeds bedreig.”
Hermie Visser van die KWDM het gesê die plaas Kranskop by Tulbagh, die gewese Krygkor-gebied, is steeds in gevaar.
“Solank as wat daar hitte en vlamme is, sal ons die situasie dophou. Ons het weer twee Oryx-helikopters van die lugmag en ons eie kontrakhelikopter in die lug. Die wind raak sterker en die brandomstandighede is ideaal.
“Ons is nou juis besig met ’n voorbrand met die hulp van die helikopters, maar die vlamme staan nou in die uitheemse bosse – daar is enige gemors, van rooikrans tot bloekombos.”
Hy het bygevoeg ’n span van 24 brandslaners en agt voertuie van die KWDM is deurentyd aan diens. Hulle ruil gereeld skofte sodat almal genoeg rus kry.
Oor die brande verlede week in Tesselaarsdal en Stanford het Riaan Jacobs van die Overstrand-munisipaliteit gesê hulle hou die situasie steeds dop, “maar ná die reën Donderdag en Vrydag is die brande hier vir eers in bedwang”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger