Bokke is ons helde, sê Zuma
2009-09-15 06:32
Kempton Park - Pres. Jacob Zuma het gistermiddag die Springbok-rugbyspan met sy aankoms op die O.R. Tambo-lughawe ná hul Drienasies-reeksoorwinning as “spesiale burgers van ons land” terugverwelkom.
’n Paar honderd geesdriftige Bok-ondersteuners het langer as ’n uur in die son buite die lughawegebou in Kempton Park op hul helde gewag.
Die Springbokke het van Nieu-Seeland teruggekeer nadat hulle Saterdag die Drienasies-titel beklink het met ’n oorwinning oor die All Blacks.
Pas voordat die span opgedaag het by die verhoog buite die internasionale aankomssaal het Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), vir ’n opgeruimde Zuma ’n Springbokbaadjie aangetrek.
“Dit is net gepas dat die mees suksesvolle Suid-Afrikaanse rugbyspan ooit vandag (gister) deur die eerste burger van ons land verwelkom word,” het Hoskins gesê.
Onder luide toejuiging het die hele Springbokspan, geklee in grys strepiespakke, toe saam met Peter de Villiers, afrigter, die verhoog bestyg.
John Smit, kaptein, het in ’n soortgelyke gebaar daarna ’n nr. 3-Springboktrui aan Zuma oorhandig as simbool van die drie kere wat die Bokke al in die Drienasies-reeks gewen het.
“Om Zuma vandag hier te hê is die kersie op die koek van ’n wonderlike paar weke.
“Ons sê ook dankie aan die energie wat ons land deur hul ondersteuning vir ons gegee het,” het ’n duidelik vlugvoos Smit gesê.
Zuma het die Bokspan daarna as “ons helde” en “die spesiale burgers van dié land” verwelkom. “Dit maak ons trots dat ons ander lande wat tuis teen ons speel, twee keer laat dink. Dit is egter selfs beter dat ons in hul eie lande oor hulle loop,” het hy gesê terwyl die ondersteuners hom juigend aangemoedig het.
“Baie geluk aan die afrigter (De Villiers). Soos party mense sê: Goeie dinge kom in klein porsies.”
Zuma het geskerts hy het nog nie só baie langafstandskoppe deur ’n Bok-span gesien nie, maar ook gesê hul spel beklemtoon wat ’n “spesiale land” Suid-Afrika is.
Hy het ook ’n voorspelling vir die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi gewaag: “Ek is seker hulle (die Bokke) sal dan weer die beker huis toe bring.”
De Villiers het op sy beurt ’n spesiale bedanking aan rugbyondersteuners gerig.
Hy het gesê dit is te danke aan “die druk en energie” van toeskouers dat die Bokspan hul beste wou en kon gee.
Smit het aan Die Burger gesê hul tuiskoms “as kampioene” is besonders omdat Zuma vir die eerste keer die span persoonlik kom verwelkom het.
Hoskins het gesê De Villiers het bewys hy het wat dit verg.
- Die Burger