Bokhael vir boef
2010-08-18 11:14
Beeld
Johannesburg - 'Vandag skiet ek jou vrek,” het Louise Jacobs (77) haar aanvaller gewaarsku.
Toe hy omswaai om sy vuurwapen op haar te rig, het sy nie op haar laat wag nie, maar haar haelgeweer die verdere praatwerk laat doen.
Dié skoot bokhael, wat die booswig gewond en hom en sy makkers op die vlug laat slaan het, was Maandag die uiteinde van ’n aanval wat Jacobs se man, Peet (81), meen al Vrydag ’n aanloop op hul plaas gehad het.
“Saterdagoggend het ek agtergekom daar is goed uit my bakkie gesteel en dat ons een hond siek is. Ons het hom melk gegee en hy het later reggekom, maar ek het geweet iets aan die gang,” het Jacobs gister op hul plaas, sowat 12 km buite Heidelberg op die Vereenigingpad, gesê.
Hy is Maandagoggend na die Heidelberg-polisiekantoor toe om Vrydagnag se diefstal aan te meld toe sy vrou bel om te sê dat sy pas op die plaas aangeval is en dat sy een van die aanvallers geskiet het.
“Die een polisieman het net gesê: ‘Ry oom, ek sal als reël.’
“Toe ek op die plaas kom, toe keer hulle my al voor. Toe is die polisie, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum en bure, die helikopter en die manne met die honde al hier. Dis regtig ’n pluimpie vir die diens en spoed waarmee die polisie gereageer het.”
Volgens Jacobs het een van hul werkers gesê sy vermoed daar is vreemde mense agter die huis.
“Ek het vir haar gesê sy moet oor die elektriese draad spring en hardloop. Ek is kamer toe om die haelgeweer te gaan haal.
“Die volgende oomblik het ek gehoor hoe hulle die veiligheidshek by die voordeur met ’n pik oopbreek. Net daarna het een met ’n vuurwapen die ruit langs die voordeur stukkend geslaan en ingeklim.
“Toe hy nog so swaai met die vuurwapen toe skiet ek – hier van die veiligheidshek wat na die slaapkamers lei. Van daar kan mens op die voordeur kyk. Hy skreeu toe vir die ander om te hardloop en almal is hier weg. Toe bel ek my man.
“’n Stemmetjie in my het die vorige aand vir my gesê: ‘Laai die haelgeweer,’” het Jacobs gesê.
Volgens kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, is ’n 33-jarige Zimbabwiër in die omgewing aangekeer. Hy is nie die gewonde man nie. Die Toyota Venture waarmee die vyf ander verdagtes gevlug het, is later verlate in Rondebult by Dawn Park, Boksburg, gevind.
Die polisie het ook ’n bloedspoor naby die voertuig gekry.
’n Paar jaar gelede het Jacobs ook haar durf in ’n gevaarlike situasie gewys. Sy het ’n slang wat langs die honde se bak gelê het met klippe probeer verwilder toe die reptiel haar in die oog spoeg.
“Maar toe besluit ek dis nou genoeg en gooi hom met ’n klip dood voordat ek dokter toe is.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld