Bok red man van verstikking
2010-06-14 06:44
Stephen Nell, Die Burger
Kaapstad - Die Springbokstut Jannie du Plessis het Saterdagaand ’n man se lewe gered kort nadat hy Suid-Afrika gehelp het om sy span se grootste sege tot nog toe teen Frankryk in ’n rugbytoets op eie bodem te behaal.
Du Plessis, ’n gekwalifiseerde dokter, het eers as plaasvervanger in Suid-Afrika se weghol-oorwinning van 42-17 gespeel en daarna ’n man wat by die geselligheid aan ’n sosatie verstik het, uit ernstige nood gehelp.
Die Bok-held het Saterdagaand met Die Burger oor sy heldedaad gesels.
“Ons het by die funksie uitgeloop, want ons is aangesê om bus toe te gaan. Ek was op soek na ’n badkamer en sien toe ’n besorgde tannie vir haar man vra of alles reg is. Toe ek so twee treë verby is, skree sy: ‘My man verstik, my man verstik!’ Ek kon sien sy was absoluut paniekbevange.
“Ek draai toe om en wou met hom praat, maar sien hy kan nie ’n woord uitkry of asemhaal nie. Sy oë was vreesbevange. Sy sê toe hy het ’n sosatie geëet en verstik.
“Ek het die Heimlich-maneuver gedoen waar jy jou vuis op die diafragma druk. Hy het met sy hande beduie, maar kon geen woord uitkry nie. Die speeksel het begin loop en ek kon sien die ou is in die moeilikheid.
“Hy het blou om die lippe geraak en was bleek. Ek het nog twee keer hard gedruk en alles gegee. Ek sê toe vir hom dis ernstiger as wat ek gedink het en ek gaan daardie ding uitkrap.
“Ek beduie toe vir hom hy moet sy mond oopmaak en ek het my vinger tot by sy stembande ingedruk. By die adamsappel het ’n stuk vleis vasgesit en ek het my vinger daar ingekry en uitgetrek. Met die genade van Bo het die ou weer asemgehaal. Ek is nie ’n pastoor nie, maar dankie aan die Here. Hy was baie verlig en het omtrent in trane uitgebars.”
Die man, wie se identiteit onbekend is, het Du Plessis bedank nadat hy asem kon skep. Du Plessis was self emosioneel en het gesê dit het die rugby in perspektief gestel.
“Jy is verheug wanneer jy ’n rugbywedstryd wen, maar hierdie was net ’n verligting. As dinge verkeerdgeloop het, kon dit lelik gewees het. Dit laat jou ’n bietjie dieper dink as net nog ’n rugbysege. Toe ons terug na ons hotel ry, het ek gedink ek gaan ’n paar minute langer op my knieë deurbring, want die lewe kan in ’n oogwink verby wees.
“Daardie ou het ’n sosatie geëet nadat hy ’n toets gekyk het, toe verstik hy.
“Die oorwinning maak geensins meer saak nie. Al wat saak maak, is dat jy daai ding moet uitkry. Dis op ’n ander vlak as rugby. Ek is net dankbaar.”
Du Plessis het ook ’n goeie toets as plaasvervanger gehad nadat hy BJ Botha as vaskop stut vervang het.
- Die Burger