Boikot SA wyne, vra ANC
2012-11-14 07:10
Johannesburg – Die ANC in die Oos-Kaap vra dat Suid-Afrikaanse wyn geboikot word.
Dít te midde van 'n voortslepende staking deur plaaswerkers om beter lone en werkstoestande te eis.
Mlibo Qoboshiyane, woordvoerder van die ANC in die Oos-Kaap, het gesê mense sal die uitbuiting van werkers ondersteun indien hulle aanhou om wyn, wat in Suid-Afrika gemaak word, te koop.
"Volgende keer wat mense wyn van die Wes-Kaap drink, moet hulle weet hulle ondersteun die uitbuiting van swart werkers."
Plaaswerkers in die De Doorns-gebied het verlede week begin staak en eis 'n daaglikse loon van R150 en beter werkstoestande.
Qoboshiyane het gesê die boere kan bekostig om die werkers die bedrag te betaal wat hulle soek.
"Die Suid-Afrikaanse wynbedryf maak plaaslik en internasionaal baie geld, dus is die looneise van die werkers realisties en kan deur die werkgewers betaal word."
Hy het gesê Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, ondersteun nie die werkers nie, omdat plaaseienaars die DA finansier.
"Die mense van die Wes-Kaap verdien 'n beter leier as Zille," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA