Boewe só dronk, vergeet kar
2009-10-16 08:15
Hilda Fourie
Pretoria - Twee rowers het vyf liter wyn uitgedrink, wors in die pan gebraai en die yskas leeg geëet terwyl hulle ’n egpaar vyf uur lank in hul huis in Waterkloofrif, Pretoria, aangehou het.
Terwyl hulle so dronk was dat hulle nie eens besef het hulle kan die motor ook steel nie, het Lucia van Tubbergh (74) die noodknoppie gedruk om 'n veiligheidsmaatskappy te ontbied.
Volgens kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het die rowers eergister omstreeks 14:00 oor ’n muur gespring om by die Van Tubberghs se erf in Polarisstraat in te kom.
Verskeie inwoners van dié straat was die laaste paar maande slagoffers van huisrooftogte en -inbrake.
Een van die mans, wat met ’n mes gewapen was, het Frederik Johannes van Tubbergh (67) in die tuin oorval en aangerand voordat hy hom in die huis ingeneem het waar die ander rower Van Tubbergh oorval het.
Die rowers het die egpaar vasgebind en toe die huis geplunder.
“Die twee verdagtes het begin om na vuurwapens en geld te soek. Toe hulle niks in die kluis kry nie, het hulle kwaad begin word,” het Weilbach gesê.
“Tydens die soektog het hulle op wyn afgekom en begin drink. Hulle het meer as vyf liter wyn gedrink.
“Die rowers het ook wors in ’n pan gebraai en die yskas leeg geëet.”
In ’n stadium het die rowers begin om van hul buit in die Van Tubberghs se BMW te laai.
Van Tubbergh kon dit regkry om in dié tyd (omstreeks 19:00) die noodknoppie te druk.
“Die rowers was te dronk om daaraan te dink dat hulle in die motor kan vlug,” het Weilbach gesê.
“Hulle het toe weggehardloop en kon slegs met selfone, ’n klein bietjie kontant en ’n paar klein items wegkom.”
Van Tubbergh is in die hospitaal opgeneem vir hoofbeserings wat hy tydens die aanranding opgedoen het, maar is weer ontslaan.
Die rowers is steeds op vrye voet.
- Beeld