Boete of tronk toe oor boer man skiet
2010-04-14 09:02
Frans Coetzee, Beeld
Kimberley. – ’n Boer van Prieska wat ’n vermeende gewapende inbreker vier jaar gelede noodlottig op sy plaaswerf gewond het, is gister in die streekhof swaar beboet en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die deurslaggewende getuienis van ’n plaaswerker het meegebring dat Gillian Smit (52) nie op aanklag van moord nie, maar aan strafbare manslag skuldig bevind is.
Streeklanddros Danie Schneider het Smit met R60 000 beboet of tot drie jaar tronkstraf gevonnis ná die dood van mnr. Simon Tau Serame in 2006.
Volgens die bewese feite wat nie in geskil was nie, het Smit en Pieter van Rooyen, die werker, sy drie plase op Vrydag 15 September 2006 besoek.
Smit woon op die dorp.
Op die onbewoonde plaas Bon Esparanza het hulle gebreekte ruite by die opstal opgemerk.
Tekens van ’n betreder is op die werf en by die leë werkershuis gekry.
Terwyl hulle rondom die ou en nuwe wonings geloop het, het Van Rooyen ’n onbekende man gewaar.
Die vreemdeling het ’n mes by hom gehad.
Van Rooyen het Smit geroep wat sy .30-06-jaggeweer uit die bakkie gehaal het.
Toe hy die onbekende man gewaar, het Smit gesê hy moet gaan staan. Smit het ’n “bangmaakskoot” in die ou huis se muur geskiet. Smit het die onbekende weer gewaarsku om te staan.
’n Tweede skoot is geskiet toe Serame weghardloop. Hy is van agter in die sy getref.
Smit het die polisie en ’n ambulans ontbied. Die gewonde is per ambulans na Kimberley gebring waar hy beswyk het.
Schneider het in sy uitspraak gesê hy aanvaar Van Rooyen se getuienis dat Smit se aanvanklike bedoeling was om Serame in hegtenis te neem.
By die gewonde Serame het Smit aan hom (Van Rooyen) genoem hy wou die tweede skoot naby die eerste skoot afvuur.
Dié mededeling dui daarop dat Smit verras was dat hy Serame getref het aangesien hy bedoel het die tweede skoot moet ook as ’n waarskuwingskoot dien.
Schneider het gesê hy aanvaar die forensiese deskundige se getuienis dat die geweer nie buite teen ’n staaltafel gestamp of gehaak het sodat die tweede skoot “per ongeluk” afgegaan het nie.
Schneider het by vonnisoplegging gesê Smit is ’n nuttige en wetsgehoorsame landsburger.
Hierteenoor is die neem van ’n lewe ’n permanente verlies.
Dit is belangrik dat die feite waarop Smit skuldig bevind is, “koelkop” beskou word.
“U is ’n grondeienaar met regte. U is nie gewelddadig ingestel nie. U betrap ’n gewapende betreder op u grond.
“Die Grondwet bepaal dat ’n lewe nie geneem kan word tensy u lewe bedreig word nie. U lewe was nie fisiek in gevaar toe u die sneller getrek het nie
“U optrede was onaanvaarbaar, nalatig en onverantwoordelik,” het Schneider gesê.
-Beeld