Boesak ontken Zuma-vergadering
2009-11-05 16:00
Johannesburg - Allan Boesak, wat hierdie week van die politieke party Cope bedank het, het Donderdag gerugte dat hy ‘n vergadering met pres. Jacob Zuma aangevra het, ontken.
"Ek het nie in die verlede nie en ook nie nou enige vergadering met die president van Suid-Afrika aangevra nie.” het Boesak in ‘n verklaring gesê.
Boesak het gesê hy sal Suid-Afrikaners en die land se demokrasie tot die beste van sy vermoë as ‘n gewone burger kan dien.
"Dit beteken dat die bydrae wat ek hoop om te maak van buite enige politieke party, insluitende die ANC, sal wees,” het Boesak gesê.
Die koerant The Star het vroeër dié week berig dat Boesak met Zuma wou vergader oor die moontlikheid om by die ANC aan te sluit.
Boesak het Dinsdag sy bedanking as die Wes-Kaapse Cope-leier aangekondig. Hy het gesê die struktuur in dié party is in wanorde.
Kort ná sy bedanking het Membathisi Mdladlana, hoof van die provinsiale ANC-taakspan, ‘n verklaring uitgereik en Boesak “herinner” dat die ANC sy politieke tuiste is.
"Net soos die geval met pres. Zuma sal ek myself beskikbaar stel vir gesprekke met enige en alle rolspelers wat my kommer oor die stabiliteit en groei van Suid-Afrika deel,” het Boesak gesê.
- Sapa