Boervrou skiet inbreker in nek
2010-09-30 07:46
Wesselsbron – ’n Gewapende inbreker is vermoedelik verlam gelaat nadat ’n boervrou hom in die nek geskiet het.
Cecelia Steynberg (51) van die plaas Stormpan het Woensdag omstreeks 03:00 van die geblaf van hul twee klein honde wakker geword.
Sy het opgestaan, haar kamerjas aangetrek, haar vuurwapen uit die kluis gehaal en in die bed teruggeklim.
Haar man, Callie, het gesê weens die aard van hul boerdery is hy meestal in die week in Kroonstad en sy vrou is alleen tuis.
Steynberg het gehoor hoe die veiligheidsdeur wat na haar kamer lei in die gang oopgebreek word. Sy kon nie die plaasbestuurder op die tweerigtingradio in die hande kry nie omdat hy by die hoenderhokke besig was. Die volgende oomblik was die inbreker by haar in die kamer.
Sy het ’n skoot afgevuur, maar hom gemis. Hy het haar bestorm en sy het hom in die nek geskiet terwyl hy skaars ’n meter van haar was.
Die inbreker se eie vuurwapen het blykbaar geweier.
Mev. Steynberg is daarna na buite waar sy nog ’n skoot geskiet het om die plaaswerkers se aandag te trek.
Sers. Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, het gesê die gewonde man het aan die polisie gesê drie ander was saam met hom. Hulle het by die huis ingekom deur die diefwering by die TV-kamer se venster oop te knip.
’n Vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, mev. Steynberg se voertuigsleutels en ’n rybewys wat aan iemand anders behoort, is by die gewonde man gekry.
Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal in Odendaalsrus opgeneem waarna hy na die Bongani-hospitaal in Welkom oorgeplaas is.
Die polisie, spoorsnyers, boere en Hennie Gerber, intelligensiehoof van Vrystaat Landbou en sy span, het gisteroggend met ’n grootskaalse soektog na die ander drie inbrekers begin.
’n Tweede verdagte is later die oggend in hegtenis geneem en het sekere uitwysings aan die polisie gedoen.
Die ander twee het die soekspan naby Odendaalsrus ontglip.
- Beeld