Boeremag-saak: Bewyse glo geplant
2013-01-15 08:18
Video - Só lyk Boeremag-vonnisse dalk
Presies hoeveel jaar kan Boeremaglede verwag om agter tralies deur te bring? Dié video verduidelik die moontlikhede.
KYK
Johannesburg – Boeremag-lede wat op aanklag van hoogverraad skuldig bevind is, kan aansoek doen om hul skuldbevinding ter syde te stel, het Pretoria se hooggeregshof Maandag gehoor.
Hulle beweer nuwe bewyse van ‘n polisiesameswering teen hulle het na vore gekom.
Regter Eben Jordaan het die saak tot 24 Januarie uitgestel.
Paul Kruger, wat sommige van die beskuldigdes verteenwoordig, sê ‘n oudpolisieman, kapt. Deon Loots, het bewerings gemaak oor die beweerde ongerymdhede tydens die ondersoek en hofsaak, wat in Oktober verlede jaar in ‘n Sondagkoerant gepubliseer is.
Rapport het twee berigte gepubliseer, waarin die polisiebeampte beweer die polisie het bewyse op die mans geplant, hulle aangehits om misdrywe te pleeg en die konsultasies met hul regspanne meegeluister het.
Loots was een van die ondersoekers in die Boeremag-saak en die hanteerder van die agent wat die regses geïnfiltreer en teen hulle getuig het.
Hy was ’n kaptein in die beleërde misdaadintelligensie-eenheid (MIE) en het die afgelope week gesê hy is bereid om in die hof te getuig en die polisie se “misdadigheid” oop te vlek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA