Boeremag-leier wou parlement opblaas
2012-08-03 19:35
Pretoria – Die Boeremag-leier Tom Vorster se plan was om op een dag die parlement, die hoofkantore van die SABC en die Suid-Afrikaanse reserwebank asook die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) op te blaas.
Regter Eben Jordaan het Vrydag begin om uitpraak in die opspraakwekkende Boeremagsaak te lewer.
Nege mans is tot dusver in die Pretoriase hooggeregshof aan hoogverraad skuldig bevind in verband met 'n regse komplot om die regering omver te werp.
Hy het bevind dat Vorster vroeg in 2002 as leier van die Boeremag by die eerste beskuldigde, Mike du Toit, oorgeneem het.
Jordaan het Vorster se weergawe dat hy slegs "selfverdediging"-planne opgetrek het as onsin afgemaak.
Vorster het op verskeie geleenthede verklaar dat die Boeremag die land gaan "terugneem" en dat swart mense weggejaag sou word. Kleurlingmense sou "vir later" gelos word.
Dit is duidelik dat hy oorlog op die regering verklaar het, het die regter gesê.
Die hof het Henk van Zyl se getuienis aanvaar dat Vorster in Julie 2002 aan hom gesê het dat "D-Dag" naby is.
Hy het aan Van Zyl gesê die parlement sal teen middagete opgeblaas word. Twee ure later sal ander teikens soos die Reserwebank, taxi-staanplekke in Johannesburg asook Luthuli-huis, die ANC se hoofkwartiere, opgeblaas word.
Vorster het gesê motorfietse moet gekoop word sodat hulle dit kan gebruik om mee te vlug sodra die bomme geplant is. Motors moes ook gehuur word.
Jordaan het gesê motors is wel later vir hierdie doel gehuur.
Die planne wat deur Vorster beskryf is het ook ingesluit dat hulle verskeie militêre basisse gaan oorneem.
Jordaan het Vorster se getuienis dat hy nie instruksies gegee het dat bomme vir "D-Dag" vervaardig moet word nie verwerp.
Jordaan het die verhoor tot Maandag verdaag nadat sy stem hom halfpad deur sy uitspraak probleme begin gee het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA