Boeremag-lede se lot binnekort bekend
2013-02-05 07:10
Johannesburg – Die vonnisverrigtinge van 20 Boeremaglede wat aan hoogverraad skuldig bevind is, sal na verwagting Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria begin.
Dié groep regses is verlede jaar daaraan skuldig bevind dat hulle deel was van 'n sameswering om die ANC-regering omver te werp.
Kobus Pretorius, sy broers, Johan en Wilhelm, sowel as Herman van Rooyen en Rudi Gouws – wat die groep se bomdeskundiges was – is ook daaraan skuldig bevind dat hulle Claudia Mokone vermoor het.
Sy is dood toe 'n stuk metaal van 'n Boeremag-bom wat op 'n spoorweg geplant is, haar in Oktober 2002 in haar hut in Soweto getref het.
Die vyf is ook daaraan skudlig bevind dat hulle probeer het om oudpres. Nelson Mandela in Oktober 2002 met 'n tuisgemaakte bom probeer vermoor het.
Hulle was verantwoordelik vir 'n rits ontploffings in Soweto, en by 'n brug in Port Edward. Hulle het ook 'n Boeddhistiese tempel in Bronkhorstspruit, Gauteng probeer opblaas.
Pretorius en sy broers het gedurende die hofsaak sonder sukses probeer om as oorlogsgevangenes erken te word. Hulle het aangevoer dat hulle vryheidsvegters was in 'n oorlog teen die ANC, en dat hulle probeer het om 'n Boererepubliek te vestig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA