Boeremag: Visagie kry hartoperasie ná vlug-flop
2011-06-03 08:00
Pretoria – Vis Visagie (72), die oudste van die vyf Boeremag-beskuldigdes wat vroeër die week uit die hooggeregshof in Pretoria probeer ontsnap het, ondergaan vandag ’n hartvatomleidingsoperasie.
Dr. Lets Pretorius, ’n medebeskuldigde en dokter, het Donderdag gesê Visagie het Dinsdag ’n “erge hartkramp” in die beskuldigdebank gekry. Visagie is kort daarna na ’n hospitaal geneem en toetse is op hom uitgevoer.
Volgens Pretorius is nog toetse Donderdag gedoen. Daar is gevind ’n aar is verstop.
Die vier beskuldigdes wat Dinsdag saam met Visagie probeer ontsnap het, is Tom Vorster, Herman van Rooyen, Rudi Gouws en Mike du Toit.
Volgens Pretorius het Du Toit se knie baie seergekry tydens die ontsnappingspoging.
Elf van die oorblywende 20 beskuldigdes is in aanhouding.
Pretorius, wat op borgtog uit is, het Donderdag gesê van die beskuldigdes is reeds nege jaar in aanhouding sonder dat hulle skuldig bevind is. “Dit is onaanvaarbaar.
“Dié mense word deur middel van die verhoor aangehou.”
Hy het ook gesê omdat vyf beskuldigdes probeer ontsnap het, word die ander ses beskuldigdes in aanhouding ook daarvoor gestraf.
Daan Mostert, namens sekere van die beskuldigdes wat nie probeer ontsnap het nie, gaan waarskynlik vandag betoog oor dat ook sy kliënte in voetboeie in die beskuldigdebank moet sit.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld