Boere van Suid-VS het hulp nodig
2011-09-07 09:07
Bloemfontein - Altesaam 13 000 ha weiveld is verlede week in ’n verwoestende veldbrand in die Edenburg-distrik afgebrand.
’n Verdere 303 ooie is dood, 67 600 m grensheining en 159 900 m kampheining het heeltemal afgebrand.
Die getalle is Dinsdag deur die Vrystaatse departement van landbou bekend gemaak.
Dié enorme veldbrand het Donderdag tussen Jagersfontein en Edenburg begin, dit het plase tot by Edenburg verwoes, oor die N1 gespring en plase tot in die Reddersburg-distrik het gebrand.
Dr. Jack Armour van Vrystaat Landbou (VL) sê hoewel die hoeveelheid hektaar wat afgebrand het heelwat minder is as wat daar aanvanklik gevrees is, bly die veldbrand steeds ’n enorme ramp.
Ná die brand is daar gevrees dat tot 100 000 ha afgebrand het.
“Die gemiddelde oppervlakte van plase in die omgewing is sowat 1 000 ha.
“Dit beteken dat sowat 10 boere van die omgewing hul plase verloor het.
“Dit bly werklik ’n groot tragedie.”
Armour sê VL verskaf hulp waar dit nodig is.
“Daar het reeds heelwat hulp vir die boere ingestroom. Maar ek dink nie dit is genoeg nie. Oor ’n tydperk van 30 dae gaan die diere van die plase wat gebrand het sowat 600 ton voer benodig.”
Hy sê daar is ’n krisis omdat van die boere van die Suid-Vrystaat reeds vroeër die jaar van hulle voer aan boere gestuur het wat toe deur veldbrande geraak is.
Honderdduisende hektare weiding het al sedert die begin van Augustus in verwoestende veldbrande in die Vrystaat afgebrand.
Malcolm Procter van die departement van landbou, bosbou en visserye in die Vrystaat sê in sy nuutste verslag meer as 117 943 ha weiding het in Augustus in die Vrystaat afgebrand.
Dit is 38 000 ha meer as verlede jaar dieselfde tyd.
Dit was voor die brande by Edenburg plaasgevind het.
Hy het mense gemaan om uiters versigtig te wees “omdat vanjaar ’n moeilike jaar met veldbrande gaan wees”.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad