Boere soek sekerheid oor toekoms
2010-03-16 06:09
Pieter du Toit, Die Burger
Kaapstad-“Ons het hom reguit in die oë gekyk en direk gevra: ‘Is die nasionalisering van landbougrond te wagte?’ en hy’t ‘nee’ geantwoord.”
Hoewel dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, meen Thozi Gwanya, direkteur-generaal van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het dit bedoel toe hy nee gesê het, meen hy boere moet op hul tone bly.
Groot ontsteltenis heers in die landbougemeenskap oor die regering se planne om direk by kommersiële landbou in te gryp. Dié planne sluit ’n voorstel in om ’n aanpassing aan art. 25 van die Grondwet – wat eiendomsregte waarborg – te doen.
Dít kom volgens De Jager en grondwetkenners op nasionalisering neer. “Hy’t dadelik gesê dis nie ’n kwessie nie. Ons moes hom egter daarop wys dit is ’n báie groot kwessie omdat boere onseker is en beslis nie gaan saamwerk aan grondhervorming indien hulle nie sekerheid oor hul toekoms het nie,” het De Jager gister na afloop van ’n vergadering tussen die departement, Agri SA en die Landbousakekamer gesê.
Die vergadering is belê om die regering se planne te bespreek om ’n kwart van sy begroting vir die komende jaar te gebruik om sowat 200?plase wat ingevolge die staat se grondherverdelingsprogram misluk het, te herkapitaliseer.
De Jager het gesê al het hy Gwanya se versekering aanvaar dat die regering nie van plan is om landbougrond te gryp nie, bly hy ongemaklik daaroor.
Volgens hom hoor die landbougemeenskap kort-kort sulke tipe praatjies. “Hy het ons in die oë gekyk en gesê dít (nasionalisering) sal nie gebeur nie. Ons moet die regering daaroor vertrou.
“Wat bemoedigend is, is die erkenning dat grondhervorming misluk het en dat gesels moet word om sake om te draai. Ons is gevra om hand by te sit en daar is ook gevra wat ons benodig. Dit is goed om te weet ons speel vandag ’n meer integrale rol as ’n dekade gelede,” het De Jager gesê.
Gwanya het verduidelik die voorstel om art. 25 aan te pas is bloot ’n debat waaroor gedebatteer moet word.
Ondanks bestaande vrese oor die toekoms van landbou, is De Jager tevrede dat daar ’n bereidwilligheid is om probleme saam met boere te takel. “Ek bly senuagtig hieroor en ek meen baie gaan afhang van die rol wat boere in die grondhervormingsproses gaan speel... as daar ooit ’n tyd was om betrokke te raak en moue op te rol, is dit nou.”
- Die Burger