Boere sien rooi oor plan
2011-02-14 07:42
Bloemfontein - Vrystaat Landbou (VL) en boere in die provinsie is hewig ontsteld oor die voorgestelde wysigings aan die wet oor verblyfregsekerheid van plaaswerkers en plaasbewoners wat daartoe kan lei dat “boere later geen seggenskap oor hul eie plase sal hê nie”.
Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, sê die wysigings hou radikale veranderings vir boere in en dit is niks anders nie as ’n nuwe stelsel van die regering se kant af om grondbesetting te wettig.
Die beoogde wysigings is einde verlede jaar in die Staatskoerant afgekondig.
’n Openbare sitting waar mense kommentaar oor die wysigings kon lewer, is Saterdag deur die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en landelike ontwikkeling in die Protea-hotel in die middestad in Bloemfontein gehou. Die wysigings bevat verskeie ingrypende voorstelle.
Vermeulen sê twee van die voorstelle wat boere se kele kan afsny, is die voorgestelde wysiging dat plaaswerkers kommersieel op die plaaseienaar se plaas mag boer en dat plaaswerkers beeste sonder die plaaseienaar se toestemming mag aanhou.
“Die voorstelle gee soveel regte aan die plaaswerker en die plaasbewoners en hul familielede dat boere later geen seggenskap oor hul eie plase sal hê nie. VL is van mening die voorstelle is heeltemal ongrondwetlik.”
Vermeulen sê die organisasie sal alles in die stryd werp om beswaar teen die wysigings aan te teken.
Hy gaan reeds vandag begin om verskillende portefeuljekomitees wat hiermee gemoeid is te bel sodat die nodige stappe gedoen kan word om die voorstelle af te keur.
Voorts sê hy daar is geen kennisgewings uitgedeel om mense bewus te maak van die openbare verhore nie.
“Dit laat ’n mens wonder of die regering bang is dat verskeie mense by die openbare verhore gaan opdaag om beswaar teen die voorgestelde wetgewing te maak.”
Die volledige wysigings word op die departement van landelike ontwikkeling se webtuiste, www. ruraldevelopment.gov.za, uiteengesit: “Die departement wil met die wysigings die probleem van plaasuitsettings aanpak, asook die onregverdighede wat teenoor die arm plaasgemeenskappe plaasvind, herstel.”
Voorts lui die wysiging dat miljoene mense in haglike omstandighede op plase woon waar hul geen sekerheid oor verblyfreg het nie.
“Met die wysigings wil ons die wet oor die verblyfreg verander sodat volledige stappe gedoen moet word om enige persoon van ’n plaas af te sit. Toestande moet ontwikkel word wat lei tot vreedsame verhoudinge op plase en in die plaas-gemeenskappe.”
Volksblad het ’n paar boere oor die voorstelle gepols.
Hennie de Jager van Kroonstad sê die voorstelle is absurd.
“Ek is woedend hieroor. Dit is asof die regering wil hê boere moet absoluut geen regte meer hê nie.”
Delport van Zyl van die Colesberg-omgewing sê dit is die eerste woord wat hy van die wysigings hoor.
“Ek het in der waarheid nie woorde om my misnoeë uit te spreek nie. Ons boere sal nou moet saamstaan om die stappe te keer of dit is die einde van landbou in die land.”
Mense het tot 24 Februarie om kommentaar lewer. Mense wat kommentaar wil lewer, kan ’n e-pos stuur aan LandTenureSecurityBill@ruraldevelopment.gov.za.
- Volksblad