Boere raak betrokke by sensus
2011-08-01 21:59
Kaapstad – Statistieke Suid-Afrika het boere gevra om mense in hul gebiede te identifiseer wat as sensusopnemers kan registreer.
Sowat 156 000 veldwerkers gaan aangestel word om met die bevolkingsensus te help wat tussen 10 en 31 Oktober gedoen sal word.
Moses Mnyaka, bestuurder vir landbou-statistiek, sê ter wille van landelike veiligheid wil hulle graag hê mense wat bekend is in ’n gebied moet by die opnames betrokke wees.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is verleng tot 15 Augustus om mense nog geleentheid te bied om aansoek te doen. Sowat 216 000 het reeds aansoek gedoen.
Die normale vereiste vir aansoekers is ’n Graad 12-kwalifikasie maar in boerderygemeenskappe is Graad 10 ook aanvaarbaar.
Mnyaka sê sensusopnemers sal die protokol vir toegang tot plase volg en hy vra boere om hul steun en samewerking om van die sensusopname ’n sukses te maak. Daar word gepoog om met alle distrikslandbou-unies saam te werk.
Mense wat belang stel om veldwerkers te word, kan 0800 110 248 vir verdere inliging skakel of die webwerf www.statssa.gov.za vir aansoekvorms besoek.
– Vir meer inligting besoek Landbou.com.
– Volg Nuus24 op Twitter.