Boere pleit vir meer polisiemanne
2012-01-26 08:02
Ladybrand – Hy het nie op daardie oomblik aan homself gedink nie. Hy was net bekommerd oor die boer se veiligheid.
Só sê sers. Moeketsi Motete van die Ladybrand-polisiekantoor nadat hy Saterdagmiddag manalleen teen drie vermeende aanvallers op die plaas De Hart van Tolla Mostert te staan gekom en twee van hulle vasgetrek het.
Boere is vol lof vir die dapper polisiebeampte, maar sê dit is vir hulle kommerwekkend dat slegs een polisieman uitgestuur word na ’n dreigende plaasaanval.
P.H. Hobson van Pinekloof sê hy kon nie glo net een polisieman is uitgestuur nie. Die polisiekantoor is ingelig daar is drie gewapende betreders op die plaas.
Hobson sê Motete was gelukkig dat dinge goed afgeloop het. “Hy is gelukkig hy leef.”
Reuter Sorour van die plaas Uitkyk, wat in Desember ook amper die slagoffer van vyf mans was wat hom glo wou vermoor, sê: “Een (polisieman) is beter as niks. Daar is egter al gesê plaasaanvalle is ’n prioriteit. Weens die erns daarvan sal ’n mens graag wil sien dat die polisie mense daarvoor beskikbaar stel.”
Jorrie van Niekerk, voorsitter van die boerevereniging hier, sê dit is onaanvaarbaar dat ’n enkele polisieman uitgestuur is.
Brig. Bily Jones, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die polisiebestuur stel ondersoek in om vas te stel waarom slegs een polisiebeampte uitgestuur is.
Jones sê dit is nie ’n normale praktyk dat ’n polisieman so op sy eie uitgaan nie. “Hy (Motete) het egter sy diskresie gebruik en besluit die nood is te groot om te wag.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad