Boere ly swaar ná sneeu baie skape eis
2011-07-30 09:50
Port Elizabeth – ’n Ramp dreig in die Oos-Kaapse landboubedryf nadat honderde skape vandeesweek verkluim het.
In die distrikte Jamestown en Dordrecht het swaar sneeuneerslae voorgekom en verskeie boere ly groot verliese.
Sommige boere het tot 200 skape verloor.
Temperature het die laaste week gedraai by -12 °C en die kwik het gesukkel om bedags bo 2 °C te klim.
“Daar is boere wat tot 200 skape verloor het. Op my plaas, Môrerester, is ons al sedert Sondag van die buitewêreld afgesny,” het Albert Roodt, voorsitter van die Jamestown-landbou-vereniging, gister gesê.
Boere boer meestal met Merino-skape hier.
Hy het gesê plaaspaaie is onbegaanbaar weens die sneeu. Dit maak dit ook moeilik om die omvang van die skade te bepaal.
“Ons kan op die oomblik slegs ons vee met viertrekvoertuie of trekkers bereik.”
Roodt het gesê die sneeu het gepaardgegaan met uiters sterk, ysige winde wat vee laat verkluim het.
Hy het gesê die sneeuval het gewissel van 30 cm tot 1 m diep.
“Op sommige plekke waar dit opgedam het, was dit meer as 2 m diep.”
Hy het gesê die presiese skade sal eers teen volgende week bepaal word en verslae sal dan na Agri-Oos-Kaap gestuur word.
“Hoewel ons gewoond is aan koue winters, is ons ’n bietjie onkant gevang. Die ander dilemma is dat mens regtig nie veel vir jou vee in die koue kan doen nie. Daar is eenvoudig nie soveel beskutting beskikbaar nie.”
Christo van Eck, die bestuurder van die OVK op Dordrecht, het gesê gerugte wil dit hê dat dit in 1964 laas soveel gesneeu het.
“Ons het al verneem van ’n paar boere wat groot skade het.
“Maar die meeste boere kan nog nie die dorp bereik nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld