Boere ly R2,8 miljard se skade met vloede
2011-02-22 06:54
Somerset-Wes. – Die skade wat die onlangse vloede aan boerderybe-drywighede landwyd aangerig het, beloop sowat R2,8 miljard, het Johannes Möller, president van Agri SA, Maandag hier gesê.
Möller het op ’n konferensie van dié landbou-organisasie gesê in die Noord-Kaap alleen het sowat 30 000 van 55 000 deeltydse werkers wat gewoonlik dié tyd van die jaar help oes ’n inkomste weens die vloede verloor.
“Die boere sal self op die lang termyn regkom, maar ons wil hê die regering moet dié boere bystaan om binne ’n jaar weer in produksie te wees.
“Dit sal help om voedselsekuriteit te verseker en weer werk gee aan dié mense wat dit nou verloor het,” het Möller gesê.
“Ons vra nie van die regering om vir alles te betaal nie. Ons vra net dat hy dié boere help om weer produktief te word.”
Die regering het vroeër aangebied om onder meer met die herstel van beskadigde infrastruktuur te help.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger