Boere lê 351 klagtes teen Malema
2010-03-25 04:58
Johannesburg – Die Demokratiese Alliansie (DA) beplan om 351 klagtes teen die ANC-Jeugleier, Julius Malema by die Menseregtekomissie (MRK) in te dien, omdat hy ‘skiet die boere’ gesing het.
Die name van die 351 boere was deur die DA in die Noordwes bymekaar gemaak. Hulle klagtes sal na verwagting Donderdag aan die MRK oorhandig word.
“Die mense wat in die landbou sektor werk en hulself met die term ‘boere’ identifiseer, is nie rêrig geïnterreseerd in politiek nie. Dis hoekom dit so ongereeld is om só ‘n heftige reaksie van hulle te kry,” het Leandi Erasmus, die DA se provinsiale direkteur gesê.
“Ons word oorval met oproepe deur boere wat vrees vir hul plase en families.”
Teen Woensdagmiddag het altesaam 351 boere klagtes teen Malema ingedien.
Die DA beplan om 351 individuele klagtes te lê. Elke klag sal gaan oor die feit dat Malema gesê het ‘boere’ moet geskiet word omdat hulle ‘verkragters’ is. Só ‘n verklaring deur Malema stel baie mense se lewens in gevaar.
Die Sowetan het berig dat Malema ‘skiet die boere’ gesing het, toe hy onlangs studente by die Universiteit van Johannesburg toegespreek het.
Malema staar ook verskeie hofsake voor die gelykheidshof in die gesig omdat hy die liedjie gesing het.
Die ANC sowel as die Jeugliga en AfriForum was verlede week in ‘n woordewisseling betrokke omdat AfriForum probeer het om ‘n lys met 1600 name van mense wat in plaasaanvalle gesterf het, aan Malema te oorhandig.
- Sapa