Boere het nog geen hoop vir hoër pryse
2011-08-12 09:08
Stellenbosch – Melkboere het nog nie veel hoop op ’n behoorlike verhoging in die melkprys nie, selfs ná ’n buitengewone vergadering tussen die Overberg Suiwel-Aksiegroep (OSAG) en Parmalat verlede week.
Mnr. Johan du Toit, voorsitter van OSAG, het egter gesê hy glo die Parmalat-verteenwoordigers is nog oop vir onderhandeling.
Hy het verduidelik die vergadering het gegaan oor volhoubare melkboerdery in die Overberg nadat Die Burger verlede maand berig het dat 21 melkprodusente hul kuddes die afgelope ses maande verkoop het.
Hy het gesê nog twee boere het die afgelope maand dieselfde rigting gevolg.
“Ons wou graag ’n 30c-prysverhoging vir ons lede beding, maar dit lyk nie moontlik voor volgende jaar nie,” het Du Toit gesê.
Parmalat het aangedui dat hy die onlangse prysverhoging (op 1Augustus) van 10c per liter as “genoegsaam vir sommige produsente” beskou, het Du Toit gesê.
Van die boere se strategiese aksies sluit in die aanry van melk uit die Overberg na ander gebiede om sodoende ’n beter prys te kry.
“Die verskuiwing van melklewering kan dalk nog vanjaar gebeur,” het Du Toit gesê.
’n Verdere strategie is om ’n ander melkverwerkingsaanleg in die Overberg te vestig.
Op Caledon en op Buffeljags, naby Swellendam, is twee kleintjies, maar hulle oorweeg ’n derde afsetpunt.
Verder het hy gesê hulle wil vir al die melkboere, nie net in die Overberg nie, ’n groter deel van die verbruikersrand beding.
“Ons wil meer van die verbruikersprys in melkproduksie self terugploeg. Die gedeelte van die verbruikersrand het die laaste 10 of 15 jaar konstant verminder. Iewers moet dit draai.”
OSAG beplan nog ’n vergadering binne die volgende twee weke “om ons te help om die strukture vir ons nuwe planne op te stel”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger