Boere help Duduza-gemeenskap
2011-10-04 17:42
Johannesburg – Gautengse boere samel tans voedsel in om die gemeenskap van Duduza, naby Nigel, by te staan ná ’n tornado dié informele nedersetting die afgelope naweek getref het.
Simphiwe Mtsweni, ’n koördineerder in Duduza, sê hulle is baie dankbaar vir die “baie goeie voorraad kos wat ons reeds van plaaslike boere ontvang het”.
Sy sê tans is sowat 200 gesinne dakloos. Dit is baie moeilik om te bepaal hoeveel mense hulp nodig het. “Baie van die mense se familie het hulle al kom haal om tydelik by hulle te gaan bly. Maar dié mense gaan terugkeer en ook hulp nodig kry.”
’n Groot klomp van die dakloses word in die gemeenskapsaal gehuisves, maar die saal is te klein om almal te akkommodeer. Volgens Mtsweni bestaan ’n groot behoefte ten opsigte van persoonlike higiëne, toiletpapier, handdoeke en komberse.
Dirk Hanekom, bestuurder van Agri Gauteng, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir die skenkings wat reeds ontvang is.
– Lees meer by Landbou.com
– Volg Nuus24 op Twitter