Boere gesê om versigtig te wees
2009-09-07 11:41
Johannesburg - Die polisie het boere gewaarsku om meer versigtig te wees wanneer dit kom by hul roetine grasveldbrande nadat 50 huise glo deur die wegholveldbrande in die Oos-Kaap verwoes is.
"Die boere neem nie die weerstoestande in ag nie. As dit winderig is, gaan die brande vlam vat,” het sup. Mzukisi Fatyela gesê.
Boere steek jaarliks hulle grasvelde aan die brand om groei te aan te moedig.
Daar is ses mense dood en sowat 50 huise tydens verlede week se veldbrande verwoes.
Fatyela het gesê daar is ‘n verdere 50 huise sowat 40 km buite Mthatha in die afgelope naweek verwoes.
Inwoners en hulle vee is na veiligheid gebring, maar sommige het al hulle besittings verloor.
Die brand is teen Maandag geblus, maar rampspesialiste is steeds besig om die omgewing te monitor.
Helikopters is sedert Maandag weer op hul pos vir noodgevalle.
- Sapa