Boere gemaan oor aanvalle in feestyd
2011-12-15 08:32
Oudtshoorn – Verskeie instellings het landbouers Woensdag gemaan om paraat te wees teen aanvalle soos dié wat Maandag die lewe van ’n jong boer van Merweville geëis het.
Fritz Snyders (33) van die plaas Kafferskraal, halfpad tussen Merweville en Koup-stasie, is Maandag omstreeks 17:00 ten aanskoue van sy vrou, Suzanne (33) na bewering deur ’n 17-jarige plaaswerker met sy eie jaggeweer op die stoep van hul plaashuis doodgeskiet.
Die geskokte familie – Snyders se pa, Loodjie, en sy vrou, Magdalena, en die oorledene se susters, Anine (31) en Ellarie (18) – is tans saam op die familieplaas Bekersfontein, waar hul enigste seun en broer begrawe sal word, het mnr. Ferdi Botes, ’n hegte vriend van die familie, Woensdag gesê.
“Die begrafnisdiens sal waarskynlik op Merweville plaasvind, maar die reëlings is nog nie gefinaliseer nie.”
Die beskuldigde verskyn vandag in die landdroshof op Leeu-Gamka.
George Kersop van AfriForum op Oudtshoorn het gesê hulle reageer met skok en afgryse op die moord.
“Boere op plase sal hul paraatheid moet opskerp, veral in die Kerstyd.”
Hy het ’n beroep gedoen op die landbougemeenskap om kalm te bly. “Hierdie sinlose dade veroorsaak dat boerderybedrywighede aan bande gelê word.”
Hy het ook AfriForum se meegevoel teenoor die oorledene se familie en vriende uitgespreek.
Agri Wes-Kaap het eweneens sy skok en ontsteltenis uitgespreek oor wat beskryf word as ’n “koelbloedige en sinlose” moord.
“Hierdie voorval plaas opnuut die fokus op landelike veiligheid en persoonlike paraatheid,” het Porchia Adams, korporatiewe kommunikasiebestuurder van Agri Wes-Kaap, gesê. “Dit wys ook op die morele en sosiaal-maatskaplike verval van ons samelewing.
“Die voorval het die lewe van ’n tweede boer in die Wes-Kaap geëis, en volg kort op die aanvalle op plase by Malmesbury, Grabouw en Ashton.”
Adams het gesê Agri Wes-Kaap is tevrede met die uitkoms van ’n vergadering wat op 8 Desember na aanleiding van dié plaasaanvalle met genl. Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiekommissaris, en ander polisieverteenwoordigers gehou is.
“Verdere gesprekke oor die toepassing van die masionale landelike veiligheidsplan is vir die begin van die nuwe jaar geskeduleer. Intussen gaan die sektorpolisiëringseenhede voort met die bestuur van landelike veiligheid in die verskillende streke.”
Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, het gesê samewerking tussen die polisie en die landbougemeenskap is baie belangrik. “Die georganiseerde landbou werk ten nouste saam met die polisie en ons pleit by boere om by gesamentlike forums betrokke te raak. Hierdie soort voorvalle verg ’n spanpoging.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger