Boere gaan met ANC vergader
2009-11-18 15:59
Johannesburg – Rooivleisboere gaan met Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, ontmoet in ‘n poging om die party te kry om veediefstal te beheer.
Die organisasie vir ontwikkelende rooivleisprodusente (Nerpo) het Woensdag gesê dat die ANC goed geposisioneer is om die beleid te beïnvloed wat daargestel is om opkomende boere te help.
Aggrey Mahanjana, die besturende direkteur, het gesê dat die vergadering vir Donderdag in Johannesburg geskeduleer is.
“Ons glo dat hierdie kwessies bo die ministeries is en politieke ingryping vereis,” het hy gesê.
Departemente soos verdediging, landbou en bosbou en visserye, onder andere, kon nie daarin slaag om die kwessie van veediefstal aan te spreek nie en het die skuld net op mekaar gepak.
Mahanjana sal ook kwessies soos grondhervorming opbring, sowel as die tekort aan ‘n behoorlike ondersteuningstelsel vir rampe in die boerdery-sektor.
“Die regering moet ramp-ondersteuning desentraliseer sodat provinsies en distrikte spesifieke begrotings het wat daarvoor uitgesit is.”
Die nasionale regering se gesentraliseerde ondersteuningstruktuur het dit moeilik gemaak vir boere om hulp van die regering te ontvang, aangesien dit vir die regering tyd geneem het om ‘n rampgebied te ondersoek.
“Volgens ‘n Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) besluit moet landbou voorkeur ontvang. Tien persent van die regering se begroting moet in landbou ingaan, maar slegs 0,5% gaan in landbou in in Suid-Afrika.”
Meeste van die fondse word gebruik om werkers se salarisse en ander departementele uitgawes te betaal, het hy gesê.
Nerpo is die amptelike spreekbuis van Suid-Afrika se opkomende veeboere.
- Sapa