‘Boere-Viking’ in hegtenis oor monument
2010-12-01 06:33
Johannesburg – Die “Boere-Viking” is gister buite die landdroshof in eMalahleni (Witbank) in hegtenis geneem nadat hy glo ’n Boeremonument afgebreek en met ’n foto op Facebook daaroor gespog het.
Günther Kotze het op Facebook laat blyk hy het weens sy godsdienstige beskouing die gedenknaald van die Balmoral-konsentrasiekampmonument naby eMalahleni op
2 November stukkend gekap.
Kotze, wat na homself “Babilon se vyand nommer een” verwys, het op dié sosiale netwerk gesê die Bybel beveel ’n mens “om ’n obelisk te vernietig”.
Hy is by die hof in hegtenis geneem waar hy as een van oudkmdt. Willem Ratte se medebeskuldigdes verskyn het.
“Ek gaan terug tronk toe. Dit voel al soos my huis; ek gaan kuier vir my tjomme,” het Kotze ná sy arrestasie aan Beeld gesê.
Kotze het die gedenknaald herstel.
Beeld het vertroulik verneem die klag van opsetlike saakbeskadiging teen hom gaan laat vaar word.
Ao. Steve Msiza, ondersoekbeampte in dié saak en ook die saak waarin Kotze saam met Ratte verskyn, het gister gesê hy het gehoor die saak teen hom sal moontlik laat vaar word, maar kan in dié stadium niks bevestig nie.
Kotze is saam met Ratte en ander op ’n plaas by Balmoral in hegtenis geneem en later van diefstal, die onwettige besit van vuurwapens en dwelmhandel aangekla.
Hy sal waarskynlik môre op die aanklag van opsetlike saakbeskadiging verskyn.
Intussen is die saak teen Ratte, Kotze en die ander agt beskuldigdes tot Januarie uitgestel.
volg Beeld op Twitter
- Beeld