Boer wreed vermoor
2010-05-17 06:11
Carla van Niekerk, Volksblad
Parys - Vir ’n selfoon, beursie en ’n bakkie is die 40-jarige Johan Strydom die naweek wreed met ’n ysterstaaf by sy plaas se werfhek oorval en met sy bakkie tot in ’n pakhuis gesleep.
Gaste wat die naweek vir ’n braaigeselligheid op die plaas in die Buffelshoek-omgewing buite Parys aangekom het, het op die gasheer se lyk met ’n ketting om sy enkels afgekom.
Die moordenaar het Strydom vermoedelik Saterdag omstreeks 13:00 met die ysterstaaf by die werfhek oorval, het lt.kol. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.
Daarna is Strydom met sy Mazda Drifter-bakkie tot in die pakhuis gesleep.
Volgens Metsi het die moordenaar die pakhuisdeur daarna toegemaak en met die bakkie en Strydom se selfoon en beursie gevlug.
Die bakkie is later Saterdag verlate in Potchefstroom gevind en ’n 21-jarige man is in hegtenis geneem. Hy het die polisie na nog twee mans gelei, maar hulle word nie in dié stadium met die moord verbind nie.
Ernst Meiring, wat saam met Strydom in die Duet-gemeente in Potchefstroom was, het gesê hy en ’n ander vriend het op die lyk afgekom toe hulle vir die braaiery opgedaag het.
“Ons het hom gesoek, want hy was nie daar nie en hy het vir ons reggemaak. Ons het hom in die stoor gevind.”
Jurie Schoeman, ’n goeie vriend van Strydom en een van die eerste mense op die toneel, het gesê daar was ’n ketting om Strydom se enkels gebind.
“Johan se hande was baie gekneus. Ons reken hy het terugbaklei. Hy was so ’n goeie mens. Ons verstaan nie waarom dit gebeur het nie.”
Volgens Schoeman sou Strydom later vandeesmaand in die hof getuig nadat hy onlangs ’n inbreker in sy tannie, Martie Strydom, se huis op die buurplaas betrap het.
Dié man, een van Martie Strydom se voormalige werknemers, het glo verlede week sy werk by haar gaan terugvra nadat hy op borgtog vrygelaat is.
Schoeman het gesê Strydom het ’n week gelede vertel hy ontvang oproepe en wanneer hy antwoord, word die foon in sy oor neergesit.
Schoeman meen dis dié vermeende inbreker wat sy vriend vermoor het.
“Daar is so twee maande gelede by Johan se huis ook ingebreek en hy het toe ook ’n saak van diefstal aanhangig gemaak.”
Meiring het gesê Strydom “sou nie eers ’n vlieg doodmaak nie”.
Volgens Schoeman, ook ’n boer in die omgewing, het Strydom ander altyd voor homself gestel.
“Hy het ook sy werkers goed behandel en altyd vrede probeer maak. Dit is vir ons ’n baie groot verlies.”
Schoeman het vertel Strydom het verlede naweek iemand by ’n kamp vir enkellopendes ontmoet. “Hy het net vir ons vertel hoe hy dit geniet het. Hy het beplan om haar gister in Heidelberg te ontmoet.”
Die polisie het die 21-jarige verdagte op ’n naburige plaas in hegtenis geneem, het Metsi gesê. Die man het toe self sy bebloede klere aan die polisie gaan uitwys waar hy dit in ’n puttoilet gegooi het.
Metsi kon nie sê of die 21-jarige die vermeende inbreker is wat Strydom vroeër betrap het nie.
Die ander twee verdagtes is gisteroggend in hegtenis geneem nadat die polisie van Strydom se gesteelde eiendom in hul besit gevind het.
Die drie sal na verwagting vandag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.