Boer vir selfoon vermoor
2011-11-29 07:00
Bloemfontein – 'n Vrystaatse gesin is gebroke gelaat nadat hul man en pa op die plaas waar hy grootgeword het herhaaldelik deur hul plaashuis se kombuisdeur vir net sy selfoon doodgeskiet is.
Thomas Ferreira (54), eienaar van die Shell-vulstasie by die Tom’s Place-oord buite Bloemfontein en Bonsmara-boer van die plaas Riversford, het dit in sy swaar gewonde toestand reggekry om sy aanvallers af te weer. Hy het egter in ’n desperate poging om hulp te soek aan sy beserings beswyk.
Colin Vorster, wat twee aanvallers deur sy plaas gesien hardloop het, het die polisie gebel, min wetend dat sy buurman pas vermoor is. Dié aanvallers was gister teen druktyd nog soek.
Michelle Ferreira, die oorledende se suster, het Maandag by die Tom’s Place-restaurant langs haar broer se vulstasie met moeë en rooigehuilde oë vertel hoe sy die vorige aand net ná 21:00 op haar broer se bebloede lyk afgekom het. Hy het in ’n voetpaadjie sowat tien meter van sy plaaswerkers se wonings gelê waar hy inmekaar gesak het.
Ferreira, wat drie keer in die bolyf geskiet is en baie bloed verloor het, het toe reeds oor ’n muur en deur ’n kanaal die sowat 500 m na dié wonings afgelê.
Sy vrou, dr. Marita Ferreira, ’n lektor in Afrikaans aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), en sy dogter, Roux-Cil (22), wat pas haar honneursgraad in aktuariële wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi het, was nie op die plaas nie. Hulle bly in die week in Bloemfontein.
Me. Ferreira vertel haar broer het elke aand om 20:30 sy vrou gebel. Toe hy haar nie bel nie en sy foon af was toe sy hom bel, het sy baie bekommerd geraak. Sy het toe gevra of Michelle kan gaan kyk. Die plaaswerkers het hom in daardie stadium klaar gekry. Hy was reeds dood.
Sy sê ’n mens kon op die bebloede deel buite die kombuisdeur sien hoe haar broer met sy aanvallers gestoei het. Hulle het hom waarskynlik deur die kombuisvensters gesien en toe deur die deur op hom begin skiet.
Ferreira se 27-jarige seun, Thomas jr., ’n veearts, het Maandagoggend van die Kaap met die eerste beskikbare vlug en ’n swaar hart in Bloemfontein aangekom.
Vorster sê hy en Ferreira was 16 jaar lank bure. In dié tyd het só iets nooit die rustige gemeenskap getref nie. Hy sê hy het omstreeks 20:20 twee vreemde mans op sy grond sien hardloop en die polisie gebel. “As ek maar net toe geweet het en na Thomas gegaan het.”
Nadat Michelle hom gebel het, het hy die polisie op pad na Ferreira se plaas gekry. Vorster, ’n lid van Vrystaat Landbou, het die Tierpoort-polisie se vinnige reaksie en hulp geprys. Hy sê die boeregemeenskap het vinnig saamgespan om hul veiligheidsplan in aksie te stel.
Paaie is toegemaak en die toneel is afgesper om die aanvallers se spore in die rigting van Reddersburg te volg. “Ons is nog baie geskok en deurmekaar. As hulle sy aanvallers kry, sal ons dalk beter verstaan wat hulle hier kom soek het.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad