Boer vermoor, aan bakkie vasgebind
2011-05-01 14:50
Johannesburg - Die liggaam van 'n 49-jarige boer is Saterdagaand buite Ottosdal in Noordwes, vasgebind aan sy bakkie gevind, het die polisie gesê.
"Omstreeks 20:00 Saterdagaand het drie verdagtes die boer se huis binnegaan. Hulle het sy huis deursoek en hom toe in sy bors, rug en kop geskiet. Daarna het die verdagtes die boer se bakkie gebruik om hom sowat 1.2 km ver te sleep voordat die bakkie gerol het," het polisiewoordvoerder Thulani Ngubane gesê.
Die boer se liggaam was steeds vasgebind aan die voertuig toe polisie by die toneel opgedaag het.
Een van die verdagtes is dadelik in hegtenis geneem waarna hy die polisie na die twee ander verdagtes geneem het.
Ngubane het gesê hoewel die wreedheid van die aanval daarop dui dat die boer, wat alleen gewoon het, sy aanvallers geken het, dié vermoede nog nie bevestig kan word nie.
En dat dit te vroeg is om oor die motief vir die moord te spekuleer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA