Boer vas na Harrismith-vrou se dood
2010-06-10 19:00
Bloemfontein – ‘n Boer van die Vrystaat is in hegtenis geneem nadat hy verdink word van die moord op ‘n vrou van Harrismith, het die polisie Donderdag gesê.
Volgens sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, is Lerato Sithole (24), se lyk op 7 Mei langs die N3-hoofweg gevind.
Die polisie het aanvanklik vermoed dat sy deur ‘n verbygaande motor getref is, maar het egter nuwe inligting ontvang en dit opgevolg.
Sithole is glo kort voor haar dood in die geselskap van ‘n plaaslike boer gesien.
“’n Nadoodse ondersoek het getoon dat Sithole met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan is,” het Mophiring gesê.
Die polisie het ‘n saak van moord geopen en Andrew Ferreira (37) op sy plaas in die Warden-distrik in hegtenis geneem.
Volgens Mophiring het die polisie pornografiese boeke en videomateriaal in die verdagte se huis gevind.
“Forensiese deskundiges is vanaf Pretoria ingeroep om die huis te fynkam.”
Ferreira het reeds in die landdroshof in Warden verskyn op aanklag van moord.
Die saak is uitgestel tot 17 Junie vir borgtog.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA