Boer van duisende rande beroof
2010-04-26 08:05
Pieter Steyn, Volksblad
Bloemfontein - 'n Boer van Modderfontein naby Kimberley is Saterdag in Bloemfontein van duisende rande beroof nadat twee aanvallers hom in die maag en bobeen geskiet het.
Volgens Hennie Coetzee (43) het hy R30 000 kontant by Absa se Senwes-tak in Curielaan getrek.
“Ek is daarna na ’n slaghuis in Genl. De la Rey-laan om biltong en droëwors te koop.
“Toe ek terug in die kar was, het twee mans die deure oopgepluk. Hulle wou die sak met geld hê.
“Toe ek my teësit, het hulle my geskiet.”
Die voorval het omstreeks 11:00 plaasgevind. Coetzee is in die maag en bobeen getref.
Die eienaar van die slaghuis het Coetzee te hulp gesnel en met hom na die Life Rosepark-hospitaal gejaag. Coetzee is gister ontslaan en terug Modderfontein toe.
Coetzee sê hy is oortuig daarvan dat die rowers hom dopgehou en agtervolg het. Die rowers het met die geld in ’n wit Golf GTI gevlug.
Volgens kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, word ’n klag van gewapende roof en poging tot moord ondersoek.