Boer steeds kritiek ná aanval aan Oos-Rand
2013-01-30 11:40
Johannesburg – ‘n Plaasvoorman is dood en sy werkgewer is nog in ‘n kritieke toestand ná ‘n plaasaanval in die Olifantsfontein-omgewing naby Kempton Park.
Beeld berig vier gewapende mans het die voorman, Edward Fouché, en die mielieboer, Gert van Wyk, oorval en aangesê om op die grond te gaan lê.
Van Wyk (40) se broer, Riaan, het aan die koerant gesê een van die rowers het Fouché (30) koelbloedig doodgeskiet.
“Toe rig hy die wapen op my broer. Gert het gedraai en gebuk om weg te kom toe die rower hom van agter in sy rug skiet. In sy gebukkende houding is die koeël deur sy ingewande en weer uit.”
Kapt. Julia Claasen sê die rowers het toe die deur van die kantoortjie afgeskop waar die boer se vrou, Retha, met die geld van die mielieverkope gesit het. Die rowers het die geld gevat en in ’n blou Nissan-bakkie gevlug.
Volgens die dagblad is Van Wyk steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal. Hy het reeds twee operasies ondergaan.
'n Vrou wat op die buurplaas woon, het vroeër aan die SABC gesê die rowers het na bewering voorgegee dat hulle mielies wou koop.
Die verdagtes is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter