Boer sluit hom toe ná aanval
2011-09-15 07:02
Richmond – ’n Bejaarde boer het hom hier in sy plaashuis toegesluit nadat hy beroof en beseer is en is eers drie dae later deur ’n vriend in die huis gekry.
Die beseerde Petrus Schrooder is Dinsdagmiddag gekry en dieselfde aand het speurders van De Aar een van die vermeende rowers op dié dorp in hegtenis geneem.
Lt.kol. Hendrik Swart van die polisie sê ná verdere ondersoek is die 68-jarige slagoffer se rewolwer in die woonbuurt Waterdal gekry.
Swart sê Schrooder, van die plaas Wolwekraal in die Richmond-omgewing, het Saterdag omstreeks 18:30 ondersoek ingestel toe die kragopwekker skielik afgeskakel is.
Schrooder woon alleen op die plaas.
Buite het twee mans hom aangeval. Die boewe het sy .38-Special-rewolwer en R5 000 uit sy brandkluis gevat.
Schrooder se hande is vasgebind. Hy is in die huis agtergelaat terwyl die rowers met sy bakkie ontvlug het. Die bakkie het buite die huis gestaan.
Hulle moes dit by die plaashek los, want die hek was gesluit.
Intussen het Schrooder losgekom. Aangesien die selfoon weg was, het hy besluit om homself in die plaashuis toe te sluit.
Die huis het nie telefoonverbinding met die buitewêreld nie.
’n Vriend van Schrooder het die plaas Dinsdagmiddag besoek. Hy het die beseerde Schrooder in die huis aangetref en die polisie ontbied.
Schrooder is in die hospitaal op De Aar vir kneuswonde en beserings behandel.
Swart sê nog inhegtenisnemings word verwag.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad