Boer sleep UV-lektor hof toe oor ‘haatspraak’
2010-02-20 15:14
Mike van Rooyen
Eernstige beweringe van haat-spraak en rassisme word gemaak in ’n verhoor in die Bloemfonteinse landdroshof waar ’n boer van Dewetsdorp ’n lektor in Afrikatale aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) vir R50 000 weens persoonlikheidskending dagvaar.
Die eis van Willem Lombard van die plaas Ontgin teen Diketso Thulo, wat ’n meestersgraad in regeerkunde en politieke transformasie het, gaan oor ’n brief wat Thulo aan Lombard oor skaapafval geskryf het.
Daarin skryf Thulo: “Jy lewe steeds in ’n Suid-Afrika van ‘apartheid’. Jy droom nog dat jy steeds vir elke Afrikaan in die land die ‘baas’ is. Dit is ’n skande om te besef dat jy een van die boere is wat steeds glo dat Afrikane dom is en dat hulle niks kan doen nie omdat die ‘baas’ steeds beter as hulle is.
“Jou dade kan die gees van haat aanvuur. Jy moet versigtig wees om nie die saad van haat te saai nie oor die stinke trots van die Afrikaner wat jy is, wat steeds misluk om te versoen met die vuil verlede wat julle mense aan Afrikane gedoen het.”
Thulo het sy adres as die UV aangegee en die brief as ’n lektor aan die UV onderteken.
Uit die verhoor blyk dit dat Thulo by Lombard se dogter, Ebeth, vir wie hy klas gegee het, gehoor het haar pa het skape om te verkoop. Hy het drie skape bestel om geslag te word vir die onthulling van sy ouers se grafstene op 4 Oktober 2008.
Thulo sê in sy brief van 20 November 2008 toe die skape op 3 Oktober afgelewer is, was daar nie afval by nie. Iemand anders van Dewetsdorp het toe die afval van een skaap en lewer en longe van twee skape by hom afgelewer.
Hy sê toe hy Lombard ’n maand later bel, het Lombard arrogant oor die telefoon geklink en was hy nie ordentlik nie.
“Jy was so astrant deur vir my te sê jy moes nie vir my die afval, lewer en longe gegee het nie, want dit word apart verkoop.
“Wat ek wil duidelik maak in jou lui en oneerlike verstand, is deur jou kortsigtigheid kon jy nie besef dat ek nie by jou dele van skape gekoop het nie, maar drie skape met al die afval, lewers, longe en alles – menende drie hele skape, en nie dele nie.”
Hy sê as UV-lektor het hy aan Lombard respek as mens probeer betoon. Dit lyk egter vir hom Lombard soek en geniet konfrontasie. In die brief vra hy R800 van Lombard omdat hy oneerlik en onbetroubaar was.
Die bedrag sal die swak behandeling wat hy as ’n mens ontvang het en die afval wat nooit afgelewer is nie, dek. Hy het ook gedreig om die saak aan sy prokureur oor te gee.
In sy eis sê Lombard die brief is haatspraak wat hom verneder en belaster. Hy word as ’n skelm uitgemaak en sy menswees en integriteit word beswadder. Die doel is om hom as ’n rassis en iemand wat nie sy medemens respekteer nie, te laat voorkom. Sy eer en waardigheid is aangetas.
Landdros L.B.J. Moeng het die verhoor vir ’n onbepaalde tyd uitgestel. Hennie Stander van Stander, Venter en Kleynhans-prokureurs tree namens Lombard en Lindela Mfazi van Molefi Thoabala-prokureurs tree namens Thulo op.
- Volksblad