Boer skiet werkers dood wat sy ouma aanrand
2010-12-23 12:00
Johannesburg - 'n Boer van De Deur naby Vereeniging het twee plaaswerkers doodgeskiet toe hy op hulle afgekom het waar hulle sy 79-jarige ouma aanrand.
Polisie het Donderdag laat blyk een van die werkers, 'n 22 jarige man, het 'n uitval met die boer (26) gehad omdat die boer hom nie sy loongeld wou betaal nie.
"Die boer het eindelik betaal nadat die werker gedreig het dat hy na die plaas sal terugkeer en iets aakligs sal aanvang," aldus konst. Magauta Serati.
Nadat hy hom die geld gegee het, het die boer sy werker afgedank.
Die man het egter Woensdag na die plaas teruggekeer saam met 'n ander plaaswerker en die twee mans het die ouma aangeval.
Toe die boer op die plaas opdaag, het die twee mans op hom geskiet. Hy het teruggeskiet en albei gedood.
Die boer is nie beseer nie, maar die ouma is hospitaal toe gehaas nadat sy ernstige beserings opgedoen het.
- Sapa