Boer skiet rower dood
2011-10-02 16:04
Johannesburg – ‘n Boer het ‘n man doodgeskiet wat probeer het om hom van koperkabels te beroof in Trichardtsdal in die Maake-gebied, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Vyf mans het die boer se plaas Saterdag omstreeks 13:00 betree en hom met ‘n panga oor die kop geslaan, het lt. kol. Mohale Ramatseba gesê.
Die boer het daarin geslaag om sy geweer uit te haal en het verskeie skote op die vermeende rowers afgevuur. ‘n Dertigjarige man is op die toneel dood nadat hy geskiet is. Sy makkers het weggehardloop sonder om enigiets te steel.
Die boer is met ‘n ligte besering in ‘n hospitaal opgeneem. ‘n Ondersoek is geloods. Die vier vermeende rowers is steeds op vrye voet.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA