Boer sewe keer met mes gesteek
2011-03-09 23:00
Johannesburg - ‘n Boer (58) van Neuklaagte naby Vryburg is tydens ‘n rooftog op sy plaas met ‘n mes aangeval, het polisie Woensdagaand gesê.
“John Steyn, wat alleen op sy plaas bly, is Dinsdagaand deur twee mans aangeval,” het ao. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, gesê.
Die mans het glo voorgegee dat hulle motor ‘n pap wiel gehad het en het Steyn om hulp gevra.
“Terwyl hy hulle gehelp het, het die verdagtes hom oor die kop geslaan met ‘n klip. Hy het probeer vlug maar die mans het hom sewe keer met ‘n mes in die rug gesteek en een keer in die maag met ‘n gebreekte bottel,” het Tselanyane gesê.
Die verdagtes het met Steyn se Mazda-bakkie van die toneel gevlug.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA