Boer se rekenaar glo vol porno
2011-06-22 07:00
Warrenton – Altesaam 12 dwelmverwante foto’s is saam met 1881 foto’s met volwasse pornografie, 98 met tienerpornografie en 253 van vermoedelik kinderpornografie op ’n plaaslike boer se rekenaar gekry.
Só het ao. Tommy Deetlefs Dinsdag getuig in die saak van verspreiding van dwelms en die besit van kinderpornografie waarin Jurgen Human, ’n boer van Warrenton, aangekla word. Hy het skuld op dié aanklagte ontken.
Hy het wel vroeër skuld op aanklagte van die besit van dwelms, ammunisie en ’n vuurwapen erken.
Human het na bewering dagga op sy plaas verbou, verwerk en versprei.
Hy is op 16 Februarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat die polisie op sy plaas sowat 8km buite Warrenton toegeslaan het.
Dwelmverwante foto’s is gister hier in die hof gewys. Dié foto’s het ingesluit foto’s van ’n mens se arm met bultende are en rooi merke, van daggaplante, van ’n persoon wat ’n daggazol rol en en van pornografie.
Die hof het in kamera gegaan toe die pornografiese foto’s vertoon is.
Ivan Rosenstein van Bellville en drie werkers van Human, David Baadjies, Masa-ram Fortuin en Lettie Baadjies, word saam met hom aangekla weens die besit en verspreiding van dwelms. Al vier het skuld ontken.
Die verhoor gaan Woensdag voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad